Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 15 JUNIE 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat die afsterwe van Dirk Geddes, ZR6O, op 18 Mei aangekondig moet word. Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

JEUGDAG

CHINESE RADIOAMATEURS VRA HAMNET VIR BYSTAND

INTEGNETDATUM VERANDER NA 29 JUNIE

BACAR LANSEERDATUM WORD BINNEKORT AANGEKONDIG

SARL BHF/UHF/MIKROGOLF-DX-TABEL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

JEUGDAG

Môre, 16 Junie, is Jeugdag wat ons saam met die jeug vier, en vanuit ’n amateurradio-oogpunt watter beter manier is daar as ’n jeugnaelloopkompetisie wat die jongmense van Suid Afrika die geleenthied bied om met mekaar kontak te maak.

Die naelloop strek oor 2 ure vanaf 10:00 tot 12:00. Volledige besonderhede kan op www.sarl.org.za gevind word, klik op “activities” en kies dan “youth activities”. Die webblaaie bevat volledige reëls en riglyne. Die naelloop vind op die 40 m-band plaas.

Stasies mag jongmense onder 25 volle toegang tot bedryf toelaat mits elke jeugdige ’n log aan die reelingskommitee deurstuur en hulle deur ’n gelisensieerde radioamateur bygestaan word. Hierdie sal geag wees as ’n registrasie as ’n opvoedkundige stasie vir die tydperk 10:00 tot 12:00 op 16 Junie. Vir langer periodes of ander datums moet u u stasie as ’n opvoedkundige stasie registreer. Vorms daarvoor is op die web beskikbaar. Registrasie moet jaarliks hernu word.

Alle deelnemende jeug wat ’n log instuur sal ’n spesiale sertifikaat ontvang en sal ook aan ’n prysloting deelneem. Verseker dus asseblief dat sy of haar naam en adres bo-aan die log verskyn.

CHINESE RADIOAMATEURS VRA HAMNET VIR BYSTAND

Na die onlangse aardbewing in China besef Chinese radioamateurs die waarde van ’n ge-organiseerde amateurradio rampkommunikasie-organisasie, derhalwe het hulle Hamnet om hulp genader. Hamnet se Nasionale Direkteur, Francois Botha, het alreeds opleidingshandleidings met Michael Chen, BD5RV, voorsien asook besonderhede oor hoe om sodanige rampkomunikasie-organisasie te struktureer. Hy sê dat dit verblydend is dat ons van hulp kan wees aan ’n nasie wat die afgelope paar maande soveel gely het.

INTEGNET DATUM VERANDER NA 29 JUNIE

Die Integnet wat vir 22 Junie geskeduleer was, is uitgestel tot 29 Junie 2008. Die onderwerp is ook verander aangesien Paul Shuch nie beskikbaar is nie. Hy sal vir die Integnet in Augustus by ons aansluit.

Die onderwerp sal KLT wees, ’n bespreking van die uitslag van die openbare verhoor wat OKOSA hierdie week gaan hou en die pad vorentoe. Die tweede helfte van Integnet sal ’n gesprek wees oor hoe die bou van boustelle jongmense in amateurradio kan inbring en watter tipe boustelle beskikbaar gemaak behoort te word.

BACAR-LANSEERDATUM WORD BINNEKORT AANGEKONDIG

SA AMSAT onderhandel met Weather SA om die Irene Weerstasie as die lanseerplek vir BACAR te gebruik. Met die swaar lugverkeer in Gauteng is dit moeilik om ’n geskikte lanseerplek te vind. Die heersende bolugwinde word ook bestudeer om te verseker dat BACAR nie in die vroë deel van sy vlug nie in die naderingslane na OR Tambo-lughawe beweeg nie.

SARL – BHF/UHF/MIKROGOLF DX-TABEL

Mike Bosch, ZS2FM, sê dat die SARL SE BHF/UHF/Mikrogolf DX-tabel opgedateer word tot en met 30 Junie 2008. Stuur asseblief jou rekordaansprake aan Mike per telefoon na 041 581 2425 of 084 612 9600 of per e-pos na mcbosch@telkomsa.net. Doen dit asseblief nie later as die eerste week van Julie nie, sodat dit in die nuwe rekordtabel ingesluit kan word.

Dit wil voorkom dat daar nog 'n paar onopgeëiste rekords in die land is. Gaan jou logboek na en vergelyk die maksimum afstand wat jy gewerk het met die BHF/UHF/SHF/EHF rekordtabel soos gelys onder "Local Information" op die SARL webblad.

KOMPETISIENUUS

SARL HAMNET 40 METERKOMPETISIE

Die uitslae van die SARL Hamnet 40 meterkompetisie gehou op 2 Maart 2008 is bekend gemaak en is as volg:

Enkeloperateur, stilstaande mobiel:
Geoff Levey, ZS6GRL, 216 punte.

Enkeloperateur draagbaar:
Al Akers, ZS2U, 2 247 punte.

Enkeloperateur Basistasie:
1ste Jan Botha, ZS4JAN, 1 332 punte;
2de Philip Esterhuizen, 1 278 punte;
3de Thinus Potgieter, ZS2EC, 1 232 punte;
4de Pieter Bosman, ZS3AOR, 1 246 punte;
5de Durban ARC, ZS5D, 630 punte;
6de Ken Victor, ZS2OC, 574 punte;
7de Roy Newton, ZS6XN, 24 punte.

SARL 160 METER QSO-GESELLIGHEID

Hierdie is 'n aktiwiteit om kontakte op die 160 meterband tussen radioamateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder en ook om radioamateurs aan te moedig om aansoek te doen vir die SARL se Topbandtoekenning. Die geselligheid vind plaas vanaf 18:00 SAT op Woensdag 18 Junie 2008 tot 06:00 SAT op Maandag 23 Junie 2008, met GG-werking tussen 1 810 en 1 838 kHz en foonwerking tussen 1 842 en 1 850 kHz. 'n RS(T)-verslag en reeksnommer word uitgeruil.

Volledige besonderhede is beskikbaar in die SARL-kompetisieboek asook in hierdie week se HF Happenings 306. Logstate moet teen 8 Julie per e-pos versend word aan hfcontests@netactive.co.za of per gewone pos aan Die Kompetsiekomitee, Posbus 12104, Brandhof, 9324.

KLUBNUUS

Op Maandag 16 Junie 2008 word Jeugdag op 'n besonderse manier op Kathu in die Kalahari gevier.

Die Suid Afrikaanse Radioliga en die Kalahari-Karoo Amateurradioklub gaan vir die jeug van die omgewing die geleentheid skep om te sien wat alles met amateurradio gedoen kan word. Hulle sal self die geleentheid kry om met jeug regoor die land te kan gesels.

Daar sal ook inligting beskikbaar wees oor presies wat amateurradio is en hoe dit gebruik kan word en hoe dit in die verlede gebruik is. Daar sal ook 'n uitstalling wees van ou radios en ander amateurtoerusting.

Plakkate en allerlei promosiematerial sal beskikbaar wees vir die besoekers. Daar sal ook RAE-handboeke beskikbaar wees. Daar sal gepoog word om ook soveel moontlik nuwe amateurs te werf.

Die stasie, ZS3ARK, sal deur Gerhard ZS3TG, Johan, ZS3AAK, en Gerhard, ZS6GSC/3, beman word. Hulle sal aktief wees op 40 m, die 2 m gekoppelde herhalerstelsel deur na Upington, sowel as Echolink via ZS3DS-R.

Dankie aan die Hoërskool Kathu vir hul beskikbaarstelling van die perseel.

Die Bloemfontein Radioamateurklub sal aktief wees tydens Barbarossadag wat op Saterdag 21 Junie 2008 by die Leeuwberg Museum, suid van Bloemfontein, plaasvind. Op 22 Junie 1944 het die Duitse magte Rusland binnegeval - die begin van Operasie Barbarossa. Die dag sluit in wapen- en uniformuitstallings, 'n skyngeveg, pantservoertuie en nog baie meer. ZS4AFV sal op die lug wees op BHF, 40 en 20 meter. QSL via die SARL se Elektroniese stelsel en via die buro.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteits vlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen onrustig wees gedurende 15 tot 20 Junie waarna stil vlakke verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 20 m openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Kontakte met Australië is moontlik vanaf 8:00 tot 10:00 in die oggend. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa.

Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende die oggende en laat middag goeie resultate oor die korter afstande te lewer.

Saans is 80 m die beste keuse, veral nou dat die meeste donderstorms en staties agter die rug is. 160 m gaan goeie resultate vir die SARL se komende 160 m QSO-geselligheid oplewer.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou altyd kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Junie - Jeugdagnaelloop;
18 tot 23 Junie - SARL se Top Band QSO-geselligheid;
21 Junie - ZS4BFN aktief tydens Barbarossadag;
6 Julie - Indien van BHF/UHF/Mikrogolf rekords.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003